Kruispad

[javascript protected email address]
076 330 7344
Word deel van Kruispad
Kry ons Whatsapp
Moenie iets mis nie

Raak deel van ons “whatsapp community” waar al Kruispad se nuus met jou gedeel word. Ons stuur al ons preke, kinderkerk-opnames en aankondigings uit op die platform. Jy hoef nie deel te wees van Kruispad om aan te sluit by die Kruispad “whatsapp community” nie. Jy sit jouself op die groep en kan jouself ook verwyder. Dit is nie ‘n kletsgroepie nie, slegs die administrasie kan boodskappe stuur en so bly almal op datum. Al ons ander groepe in Kruispad is ook gekoppel aan die Kruispad “Whatsapp community” groep en wanneer jy meer betrokke raak by Kruispad kry jy ook geleentheid om by die ander Kruispadgroepe op Whatsapp aan te sluit. Druk gerus op die skakel en sluit aan by ons Kruispadgroep.

Kerkdiens
Mat. 18:20 “want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”

Kruispad kom elke Sondag 08:30 – 09:30 bymekaar by Claude Wheatly straat. nr. 2. Kom gerus bietjie vroëer of ry bietjie later sodat jy ook ‘n gratis koffie kan kry en ‘n kuiertjie kan deurwerk. Tydens die diens is daar kinderkerk vir al die kinders tussen 4 en 10 jaar oud. Vir die jonger kinders (0-4 jaar) is daar ‘n groot speelarea en ‘n doekruil stasie in ons saal waar die hoofdiens ook uitgesaai vir die ouers. Die amper tieners "Tweens" (11-13 jaar) het ook ‘n klas tydens die diens maar hulle is eers deel van die lof en aanbidding in die hoofdiens en gaan dan daarna uit vir hulle klas.

Deelnemer-aand
Hoe raak ek deel van Kruispad?

Indien jy belangstel om meer betrokke te raak by Kruispad begin alles by ‘n deelnemer aand. Daar word een deelnemer-aand per skool kwartaal aangebied en jy sal weet wanneer dit gebeur as jy deel is van Kruispad se “Whatsapp community”. By ‘n deelnemer-aand word jy presies verduidelik wat ons glo en hoe Kruispad werk. By Kruispad het ons nie so iets soos tradisionele lidmaatskap nie. Jy is ‘n bywoner of ‘n deelnemer. Bywoners woon alles by van Kruispad soos ons dienste, uitreike, kampe, sirkels, ens. Deelnemers word deel van die Kruispad liggaam en vervul ‘n rol binne die liggaam tot voordeel van die Here se werk deur Kruispad in ons gemeenskap. Jy kry kans by ‘n deelnemer aand om ‘n ingeligte besluit te maak en is onder geen verpligting indien jy die aand sou bywoon nie. Daar is wel vereistes om ‘n deelnemer te word. Druk op die skakel en sluit aan by ons deelnemer-aand groep indien jy ‘n deelnemer-aand wil bywoon.

Sirkels
Sirkels is beter as rye

‘n Sirkel bestaan uit 10 mense wat weekliks intensioneel bymekaar kom om mekaar te ondersteun en meer te leer oor die Here. Sirkels is werklikwaar baie beter as enige ry waarin jy ooit sal sit tydens ‘n diens. In ‘n sirkel is daar tweerigting verkeer tussen jou en jou medemens wat ware gemeenskap moontlik maak. Julle eet saam, leer saam, bid saam en ondersteun mekaar. Dit is broodnodig in ‘n stukkende wêreld en net ‘n gewone braai saam vriende doen dit nie noodwendig vir ‘n mens nie. Ons sirkels het almal ‘n begin-en-einddatum en jy het twee geleenthede per jaar om in ‘n sirkel te wees. Ons eerste sirkel-siklus gebeur vanaf Februarie tot einde Mei en ons tweede sirkel-siklus gebeur vanaf Julie tot einde Oktober. Ons hou die sirkels intensioneel gefokus deur ‘n sirkelstruktuur wat ontwikkel is vir optimale doeltreffendheid. Druk op die skakel en sluit aan by ons sirkelgroep indien jy by ‘n sirkel ingedeel wil word.

Weesryk
Ons gee vir vriend en vyand sonder om enige iets terug te verwag net soos Jesus Homself vir Sy Kerk gegee het.

By Kruispad glo ons nie in ‘n bediening begin vir elke tipe nood wat daar dalk mag ontstaan in die gemeente of in die Tzaneen gemeenskap nie. Ons verkies om die bedieninge en artikel 21 nie winsgewende maatskappye wat reeds ongelooflike goeie werk in gemeenskap doen te ondersteun d.m.v. finansies en fisiese hulp. Ons noem die uitreik been van Kruispad #Weesryk wat gebaseer is op Paulus wat vir Timotius geskryf het “Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Spoor hulle aan om GOED TE DOEN, om RYK TE WEES in GOEIE DADE, VRYGEWIG en MEDEDEELSAAM. 1Tim. 6:17-18. Die Kerk van Jesus se reputasie moet nie wees ons het geld nodig nie. Sy Kerk se reputasie moet wees ons gee vir vriend en vyand sonder om enige iets terug te verwag net soos Jesus Homself vir Sy Kerk gegee het. Wanneer ‘n Kerk ophou uitreik kan sy deure maar gesluit word. Sy Kerk is die hoop van ‘n stukkende wêreld. In Tzaneen ondersteun ons 5 organisasies en 1 bediening wat ongelooflike werk in ons gemeenskap doen. Ons ondersteun en help Noahs Ark Kinderhuis, Herofield Jeugsentrum, Tshega Christian Missions, Cancer Care Group, SAVF en die sopkombuis. Indien jy wil betrokke raak kontak ons gerus. Indien jy ‘n finansiële bydra wil maak vir enige van die organisasies is jy ook welkom. Alle gelde met verwysing “WEESRYK” word net so vir die organisasies oorbetaal.